Wednesday, 25 September 2013

Skaam tiener het nie maats nie



Ek is ‘n teruggetrokke neentien jarige met ‘n reuse probleem. Ek word gou skaam en het nie selfvertroue nie. Ek is ook baie stil en weet nooit wat om vir mense te sê nie. Mense beskou my as ‘n ernstige persoon wat nooit lag nie. Ek het al baie boeke gelees oor selfvertroue en hoe om vriende te maak, maar dit help nie.

Behartige oumenskind gee raad


Deesdae is jongmense geneig om hulself te worstel met die vraag watter soort mens hulle eintlik is. Jy weet reeds jy is ernstig en teruggetrokke nets soos ek maar jy moet dit nie as ‘n probleem beskou nie. Dit is hoe jy is en jy moet jouself leer aanvaar. Daar is niks fout met iemand wat skaam is nie. As stil, ernstige mens is dit nie nodig om die middlepunt van elke geselsgroepie te wees nie. Jy moet leer om ‘n bietjie sosiaal te wees, en dit kom met oefening. Stel elke dag vir jou ‘n doelwit: vandag gaan ek uit my eie ‘n vraag in die klas beanwoord. Breek die ys en vra vir jou maats vrae. As jy in gesprekke met aandag luister wat ander mense sê en jy belangstellende vrae vra, sal jy vind ‘n gesprek ontwikkel maklik. Die meeste mense hou daarvan om oor hulself te praat en verwelkom ‘n simpatieke luisteraar. Werk daaraan en jy sal deur ander as ‘n goeie maat aanvaar word.

Wednesday, 18 September 2013

Die blootstelling van 'n oumenskind se reuse hart vol goud



Genoeg is genoeg. Ek is so doodmoeg van allerande reëlings en regstaan vir die ouertehuis se jaarlikse Madiba funksies.

Dit was my en my geliefkooste tante se reuse taak om die enorme saal mooi te maak en op te kikker. Die tema was “ ‘n Yskoue wintersprokie” en dit was ‘n tema so na aan my hart, want as ‘n oumenskind hou ek van winter en daagliks agter geslote deure wegkruip. Die wit sneeu-effek, silwer draperings, spierwit kaal takke en feetjieliggies het die perfekte agtergrond gevorm vir die soms uitspattige outydse uitrustings van die sjarmante oumense.

Wel, my oujongnooi tante, ‘n regte perfeksonis het my gehiet en gebied: “Skuif die tafel hiernatoe, nee, nie so ver nie”, “Oppas vir die lampe”, “Rol die mat hierlangs”. Ek hoor nou nog klokhelder haar hoë stemmetjie nou nog in my nagmerries. Ons moes tafeldoeke oopgooi, servette vou, messegoed presies reg plaas en glase blink vryf. Ek was so beduiweld van boonop het die een pilaar op my krom voet omgeval – ‘n hele 80 kg! Daarna moes ons fakkels aansteek en blitsvinnig in ons swart-en-wit kelnerdrag spring om die opgewonde oumense vars en vriendelik te bedien.

Ek moet erken dit was lekker om vir ‘n slag uit die huis te kom, die geleentheid was asemrowend en die glansaand iets om te onthou. Toegegee, eintlik was dit darem nie so erg nie, maar weer doen? O nee, alles was in rep-en-roer. Ek moet erken ek het effens verlore gevoel tussen die springlewendige oumense, maar ek het gou besef God het my ‘n kosbare talent gegee om vir my medemense te versorg.

Na hierdie geseënde aand sien verskeie jongmense baie fout met my omdat ek my ophou met oumense, hulle sien fout met alles wat ek doen en vanaf hierdie aand is hulle geneig om te sê ek is “oudoos”, maar ek voel net gemaklik met oumense.

 Ek voel dus ons as mense moet leer om nie ander te oordeel nie, omdat jy probleme en onsekerhede het ondersoek eers jou eie hart. Want wanneer jy van ander skinder kleur jy jouself met bitterheid. ‘n Mens kry nie lelike mense nie, jy kry net lelike harte.

Wednesday, 4 September 2013

Die lewe van 'n eensame hart.




Ek staan nou in die skaduwee, waar ek nou bewus word van iets uniek. Dit is iets wat al jare in my doodeenvoudige lewe groei, iets wat ek glad nie wil ontsnap nie.

Mense kry my daagliks jammer, want hulle beskou dit as iets vreeslik wat my dreig om my te verswelg, om van my van binneste op te vreet.

Vir my is dit net ‘n saad van eensaamheid wat binne in my geplant is. Al voel ek soms koud soos ys, is ek glad nie vreemd nie, ek voel soms alleen maar nooit letterlik eensaam nie.

Deur my piepklein kamervenstertjie kyk ek na sorgvrye paartjies ek skat hulle my ouderdom wat hand aan hand verby gestap kom, gelukkig en kommerloos. Sies! ek skaam my morsdood.

Die lewe is verskriklik vining, ek wil glad nie ‘n mislukking maak van my lewe nie, en my familie teleurstel nie. As ‘n oumenskind is ek geneig om te dink aan al die dinge wat ek mis, om ‘n kêrel te hê vir wie ek kan omgee, maar ek glo vas agter ons kom ook in die kraal.

In ‘n groep maak ek altyd saam grappe, maar ek weier om my te assosieer met ougatte tieners.

“Die Here is my herder, wanneer ek eensaam is.”

Wednesday, 28 August 2013

"Eensame loopertjie"



Sjoe! Allewêreld!, ek raak mos nou regtig blitsvinnig oud maar beslis nie koud nie. As ‘n eensame aspoesterjie hoe vertel jy werklik van jouself? Ek dink nie mense sal verstaan watter gedagtes nou figuurlik deur my gryskop woel nie. Hoeveel moet ek deel sonder om in “over share drive” in te gaan?

Maklik sê ek, as ‘n oumenskind... vertel net meer van jouself.

Ek is nou glad nie ‘n rekenmeester nie, maar as ‘n nuwe intekenaar hier op die blogs, voel ek die regte ding sal wees om myself voor op die wa, voor te stel. Nou dit my liewe mensies kan ek beslis doen, want as ‘n oumenskind hou ek nie daarvan om ‘n lap op ‘n gesonde arm te sit nie.

My naam is Donney Adonis‘n gebore Kaapenaar, soms beter bekend as ‘n eensame oumenskind, maar dit traak my nie agtig nie. Al is ek maar net ‘n neëntien jarige tiener voel dit vir my of ek oud gebore is want ek hou my nie op met kleinsierige jongmense nie.

Ek is wel ‘n oumenskind, maar ek is inderdaad ook ‘n baie vriendelike mens, maar moet my net nie verkeerd opvryf nie. Ek is ook baie loyaal maar moet net nie met my mors nie. Ek is ek en jy moet my vat soos ek is.

Ek is hierdie jaar ‘n eerste jaarse voltydse student by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie, waar ek besig is om die grondslagfase onderwys te studeer, dus kan ek nie my kosbare tyd mors met snotneuskinders met allerander moodswings nie. As 'n huiskind is ook baie gebalanseerd en ek plaas altyd my studies eerste op die spel.

Omdat ek verskriklik baie teruggetrokke is maak ek nie maklik vriende nie, al brandt my hart na ‘n ware vriendjie, maar dit sal nooit gebeur nie want ek weet nooit wat om vir mense te sê nie.

Ek is ook baie familievas, en veral ouma se rooi appeltjie, sy is werklik my beste vriend, moeder figuur maar bowenal is sy my hard se punt. Was dit nie vir my ouma nie sou ek lankal tou opgegooi het, dus werklik ‘n eer en ‘n plesier om by haar groot te word.

 "Ek lewe vir vandag met my familie, want elke sekonde wat verby gaan is verby. Wat jy doen maak jou, nie wat jy altyd wens om te doen nie."

Ek het besluit om te blog oor eensaamheid en hoe dit my karaktiseer, want soos wat ek ouer word ondek ek meer en meer dinge van myself en net om jongmense te bewys ‘n mens het nie vriende nodig om ‘n mens te vorm nie.

En dit in kort – is ek “No frills - no fuss”, net sommer ek.